Meer oor

Nadine Blom se twee groot passies in die lewe begin beide met die letter “M” Musiek en Mense! Sy is musikant, motiveringspreker en ‘n gekwalifiseerde prokureur wat elke ding wat sy aanpak met energie en met passie deurvoer.

Na haar geboorte in Bloemfontein en kleuterjare in die klein Vrystaatste dorpie, Koffiefontein, verhuis die gesin later jare na Pretoria waar sy in graad 2 haar sangdebuut maak in Laerskool Lynnwood se kinderkoor. Met ‘n hart vir die platteland, voltooi sy haar hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Erasmus te Bronkhorstspruit waar die kultuurgogga weliswaar begin byt en sy aan al wat ‘n revue en Eistedfodd is, begin deelneem. Haar skrywerstalent het reeds in haar jeugjare na vore gekom en een van die liedjies uit haar pen, word reeds in haar matriekjaar as wenliedjie aangewys, tydens RSG se “Sterre 2000” in 1999.

Nadine Blom is een van Suid-Afrika se jong sopraanvondse en en sy word gereeld as Suid-Afrika se eie Sarah Brightman bestempel. Sy het die verhoog reeds gedeel met van ons land se voorste kunstenaars, wat insluit Jannie Moolman, Sibongile Ngoma, Kevin Leo, André Schwartz en Soweto String Quartet. Haar optrede by korporatiewe funksies sluit in Sanlam/Sarie Damesoggend, City of Tshwane Municipal Excellence Awards, Pam Golding Golden Awards, Willa Krause Oscar Awards, Munimed Awards Ceremony, Toyota se 25ste Handelaarskonferensie, Mnr. Suid-Afrika 2006, “The Fantastic Four” by Carnival City en talle meer.

Haar se derde album, “Met my hele hart” is ‘n vertoonstuk van haar stemkwaliteit en bevat onder andere ‘n indrukwekkende, klassieke pop duet, wat sy opgeneem het saam met Danie Niehaus. Daar is ook talle Nadine Blom gunstelinge op die album soos “Meermin” en “Jy is in die wind vanaand” (Reën) en die pop treffer “Hoor jy my stem in die nag”.

Haar sangtalent strek egter verder as die klassieke genre. Sy het onlangs ‘n hoogs suksesvolle kinder- pop album getiteld “Supercool” , vrygestel, wat ‘n hele nuwe standaard in Afrikaanse jeugmusiek daarstel. Tien van die 14 snitte kom uit Blom se eie pen en sy het onlangs supersterstatus verwerf by kinders regoor Suid-Afrika met hierdie populêre CD.

Wat televisie aanbetref, is Nadine reeds vir die afgelope ses maande die aanbieder van Radiokansel en kykNET se Christelike joernaalprogram “In pas”.

Ander TV-programme sluit in:
“Pasella” , “Topbilling”, “Dis hoe dit is met Steve”, “Kunskafee” (kykNET), “Heartbeat” (SABC 2), “Pitstop” (SABC 2), “Kwela” (kykNET) en onlangs die baie gewilde joernaalprogramme, “Liriekeraai” en “Sweepslag” (SABC 2).

Gedurende 2009 verskyn sy op die volgende programme:
“Jukebox”, “Noot vir Noot”, ” Dis hoe dit is met Steve”, “Roer”, asook ”Fiesta” en ”Kwela”. Haar musiekvideos, “Hoor jy my stem in die nag”, “Meermin” en “Vir altyd ‘n kinderhart”, word ook gereeld op kykNET vertoon.

As motiveringspreker het sy ‘n besondere passie vir vrouens en hul selfwaarde en het gedurende 2007 en 2008 meer as 3 000 vrouens toegespreek. Sy leef vir die Here en tree nasionaal op as lof-en-aanbiddingsleier, motiveringspreker, sangeres, voorbidder en fasiliteerder tydens tiener- en vrouekampe.

Sy beskik oor ‘n formidabele lof-en-aanbiddingspan wat saam met haar toer. Sy speel self ook klavier tydens haar bedieningsmomente. Gemeenteoptredes sluit in: NG Kerk Pierre van Ryneveld, NG Kerk Swaanswyk in Tokai, NG Kerk Proteapark, NG Kerk Lynnwood, NG Kerk Houtbaai en talle ander. Sy is ook ‘n kampfasiliteerder met ‘n groot passie vir vrouens en kinders en die herstel van gebroke verhoudings binne die gesinsverband.

‘n Hoogtepunt vir Nadine Blom was haar kroning as Mev Verenigde Nasies Suid- Afrika in 2006 . Sy is ook dieselfde jaar as eerste prinses in die Mev. Verenigde Nasies Internasionaal-kompetisie in Los Angeles aangewys. Verdere hoogtepunte was die Januarie 2007 voorblad van die spogtydskrif “Vrouekeur”, waarin haar passie vir die opheffing van vroue en kinders beklemtoon is, asook die “Finesse”-voorblad in Augustus 2007, waarin sy tesame met “Finesse” haar dankbaarheidsarmband bekend gestel het. Sy is ook as verkies as een van die mees inspirerende vroue in S.A. tesame met Suzette van der Merwe, voormalige Mej. S.A. en Bertha Cronjé.

“n Groot hoogtepunt vir Nadine was die onlangse Voorbladartikel van die spogtydskrif “LiG!” waarin haar boek vir vrouens “Ankers vir elke dag” bekend gestel is.

Nadine Blom se hart loop oor van liefde vir gesinne en ook kinders. Met ‘n passie vir kinders, het sy een van haar komposisies getiteld “ Vir altyd ‘n kinderhart” (ook op haar CD “Met my hele hart” beskikbaar), opgedra ter gedagtenis aan die pyn en swaarkry van kinders. Nadine Blom het ’n groot hart vir liefdadigheid en werk gereeld saam met verskeie liefdadigheidsorganisasies. Haar kinderprogram op Radiokansel, “Dina in Blommeland”, lê haar baie na aan die hart.

Nadine Blom se drie gunsteling lewensfilosofieë is:

“Moenie uitstel nie, doen dit nou”.
“For Pete’s sake, let the journey from the cradle to the grave be an interesting one”.
“If you judge people, you have no time to love them “ – Mother Theresa.
Sy is ma van 3, stapelgek oor baklava en biltong en droom daarvan om ‘n hoofrol te sing in een van Andrew Lloyd Webber se musiekblyspele.

 

Shop & Besprekings